JAN TAKS KLOU AAN GELD

BELASTINGBETALERS ‘NIE GENOEG BESKERM NIE’ - ARTIKEL GESKRYF DEUR HANLIE STADLER VIR BEELD KOERANT (5 SEPTEMBER 2017)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gebruik wel sloertaktiek om terugbetalings aan individue en maatskappye onregmatig te vertraag.

Die belastingombudsman, oudregter Bernard Ngoepe, wat ná honderde klagtes opdrag gegee is om die saak te ondersoek, het gister sy verslag uitgereik.

Daaruit is dit duidelik dat die SAID wel ‘n soort vertragingstaktiek gevolg het wat sedert Desember verlede jaar drasties verhewig het. Dit is veral van toepassing op die terugbetaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) aan ondernemings.

“Die belastingstelsel stel die SAID in staat om die geverifieerde terugbetaling van geld uitermate te vertraag. Dit het ‘n sistemiese probleem geword.

Die stelsel beskerm belastingbetalers nie genoeg nie,” lui die verslag.

Van die voorbeelde wat Ngoepe in sy verslag noem, is dat die SAID belastingbetalers vra om hul bankrekening te verifier. Maar selfs nadat dit persoonlik gedoen is, is daar ‘n lang vertraging voordat uitbetalings geskied.

Dit gebeur ook dat die SAID bykomende dokumente aanvra, maar dan nie die dokumente by die hooflêer aanheg op die stelsel nie, wat beteken dat die navraag as onafgehandel beskou word, asof dit die belastingbetaler se skuld is.

Pravin Gordhan, toe nog minister van finansies, het in Maart die ondersoek gelas nadat R17,3 miljard se uitstaande BTW-terugbetalings teen einde Februarie nog geoudit moes word. Teen einde Maart het dit tot R19,6 miljard gestyg.

Ngoepe sê hulle het sowat 500 klagtes ontvang, waarvan meer as die helfte geverifieer kon word.

Van die ander sloertaktieke wat hy lys, tesame met sy aanbevelings, sluit in:

  • Die SAID weier om ‘n terugbetaling vir een tydperk te doen terwyl ‘n oudit besig is vir ‘n ander tydperk.Dit is strydig met art. 190 van die Wet op Belastingadministrasie, lui die verslag.
  • Die SAID merk ou belastingklaringsertifikase skielik as uitstaande en weerhou dan teruguitbetalings.Ngoepe sê dié praktyk “is verkeerd en moet gestaak word”.
  • Die SAID se ouditeurs vra bykomende dokumente een-een aan.As navrae binne 21 dae van mekaar af uitgestuur word, verdien die belastingbetaler geen rente op die uitstaande terugbetaling nie.

“Wanneer ‘n ouditeur nie alle dokumente op een slag aanvra nie en die terugbetaling gevolglik vertraag word, moet die SAID rente op die vertraagde terugbetaling betaal,” bevel Ngoepe aan.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)
CMV Group of Companies

Tel : 012 991 4400
Fax : 012 991 3001
Physical: 17 Midas Avenue, Olympus, Pretoria, 0081
E-mail: info@cmv.co.za

Copyright © Website | Powered by SucceedGroup